Om aan eisteddfods deel te neem, kan baie voordele inhou. Dit kan kinders op ’n jong ouderdom reeds help om vaardighede te ontwikkel wat later in hul lewe nuttig kan wees.
Ons het by kenners gaan aanklop om uit te vind watter vaardighede geslyp kan word as kinders vir ’n eisteddfod voorberei en deelneem.
1. Kommunikasievaardighede word verbeter
Wanneer ’n kind die moed het om deel te neem aan ’n eisteddfod en dan ’n toespraak lewer of ’n karakter vertolk, leer hulle in die proses hoe om beter te kommunikeer, sê die akteur, skrywer en regisseur Lizz Meiring.
“Die meeste beroepe vereis die vaardighede van kommunikasie. Gebrekkige kommunikasie kan wêreldoorloë veroorsaak, huwelike opbreek, en besighede en kollegas uitmekaar laat dryf,” sê sy. Wanneer mense beter kommunikeer, verstaan hulle mekaar ook beter, sê Lizz.
Wanneer ’n leerling ’n toespraak lewer, is dit ’n kans om idees, menings en standpunte in ’n sinvolle struktuur te verwoord, sê die leierskapskonsultant Gielie Hoffmann, wat ook al dikwels as beoordelaar vir redenaarskompetisies opgetree het.
“Jy kan verduidelik hoekom jy so sterk voel en bronne of bewyse gee wat jou argument ondersteun,” sê hy.
Logiese beredenering help nie net om standpunte aan beoordelaars oor te dra nie; dit kan ook in ander aspekte van leerlinge se lewens voordelig wees, soos met die skryf van opstelle, mondelinge en ander skooltake, verduidelik Gielie.
2. Ontwikkel selfvertroue
Om aan eisteddfods deel te neem, kan help om ’n kind se selfvertroue te bou deurdat hulle nuwe vaardighede leer en soms deur die moeilik van die onbekende moet druk, verduidelik die kliniese sielkundige van Somerset-Wes, Gerda Kriel. “Die positiewe terugvoer en repliek wat gelewer word, kweek ook in ’n kind waardevolle reflektiewe vermoë wat hulle help om hulle sterkpunte te ontwikkel en daaraan te bou,” sê sy.
“Eisteddfods is ‘n fantastiese manier om van kleins af gemaklik te raak met optredes voor mense of om voor mense te praat,” sê die akteur en regisseur Marvin-Lee Beukes. Hoewel hy self nooit aan eisteddfods deelgeneem het nie, het hy graag vir sy familie en vriende “optredes” gehou en staaltjies van die storieverteller en grapmaker Tolla van der Merwe oorvertel. “Ek dink enige soort vertoning help en hoe vinniger die ys gebreek word, hoe beter,” sê hy.
Dit help nie om bloot vir mense te sê hulle moet selfvertroue hê nie, meen Lizz. “Hoe moet jy net selfvertroue hê? Met watter vaardighede? Baie mense, selfs baie akteurs wat ek ken, is eintlik skaam,” sê Lizz.
“As ’n leerling die moed het om op ’n verhoog te staan, in watter kapasiteit ook al, dan leer die kind hoe om te kommunikeer en ontwikkel hulle ‘spiergeheue’ om dit te doen,” verduidelik Lizz. En as jy dan weet jy kán iets doen omdat jy dit al voorheen gedoen het, help dit met selfvertroue, sê sy.
Gielie stem saam. “Eisteddfods bied ’n wonderlike geleentheid om vir iets voor te berei, deur vrese te werk, ’n vaardigheid te verbeter, uitdrukking te gee aan idees en dan ná die tyd ’n gevoel van bevrediging te ervaar,” sê hy. “Die kombinasie van die aspekte bou selfvertroue in ’n jongmens.”
Dit is belangrik vir ouers om hul kinders in die proses te ondersteun deur hulle toe te laat om self te besluit aan watter items hulle wil deelneem, meen Gerda. Ouers kan hul kinders ook ondersteun deur seker te maak hulle woon afrigtingsessies by en maak tyd om die items tuis te oefen.
“Ouers moet egter versigtig wees om nie oormatige druk uit te oefen nie. Dit kan die kind negatief stem en stremming op jul verhouding plaas. As jy die regte omgewing skep, is dit jou kind se verantwoordelikheid om hul deel te doen. Daardie selfvertroue wat ontwikkel deurdat die kind eienaarskap neem van die proses, sal hulle lewenslank baat,” sê Gerda.
3. Hanteer spanning beter
’n Optrede voor mense of selfs ’n kamera, kan senutergend wees. Maar omdat die wêreld vandag oor die algemeen ’n hoëdruk-omgewing is, is dit goed om kinders van ’n jong ouderdom af te leer om spanning te hanteer, sê Lizz.
Gerda stem saam. “Die kind leer dat sekere stres positief is. Ons noem dit in Engels “eustress”, en dit ontwikkel wanneer ’n mens spanning oor iets beleef, en wanneer dit suksesvol afgehandel en bemeester is, daardie gevoel van selfvoldaanheid en bekwaamheid,” verduidelik sy. “Dit laat die kind dan na meer geleenthede vir uitdagings soek en dit laat hulle dikwels meer hardwerkend word.”
Deur deel te neem aan eisteddfod-kompetisies kan leerlinge bestaande vrese oorkom en ook leer hoe om druk te hanteer voor dit in erge spanning of stres ontaard. “Al hoe ’n mens deur daardie oomblikke kom, is deur blootstelling aan dinge soos eisteddfods,” sê Gielie.
4. Dit bevorder empatie
Wanneer leerlinge hulself in ’n karakter se skoene plaas, leer hulle dadelik meer oor empatie. Maar dis ook wanneer hulle hul mededeelnemers kan ondersteun, dat dié eienskap bevorder word.
“Kreatiewe kompetisies het ’n tradisie van deelnemers wat mekaar ondersteun en dis deels oor daardie empatie wat ontstaan,” sê Gielie.
Toneelspel het hom geleer om empatie met ander mense te hê, sê Marvin-Lee. “Maar nie net toneelspel nie, stories oor die algemeen. Stories gee ons die kans om in iemand ander se skoene te stap,” sê hy.
“Kinders leer wonderlike poësie, wonderlike prosa en wonderlike skrywers se monoloë deur eisteddfods,” sê Lizz. Omdat hulle aan verskillende soorte karakters blootgestel word, kan hulle leer oor goeie en slegte karakters. “Hulle kan verstaan hoekom ’n karakter sleg is, hulle kan die held se reis beleef, tesame met al sy foute. Kreatiewe kunste kan kinders help om hul en ander se menslikheid te verstaan,” verduidelik Lizz.
5. Leer hoe om kritiek te hanteer
“Kritiek is deel van die proses. Dit kan, as dit reg aangebied word, ’n kind se reflektiewe vermoë ontwikkel,” sê Gerda. Maar soms kan kritiek afbrekend wees, waarsku Gerda. “Dit is belangrik om te onthou dat die interpretasie van die kunste hoogs individueel is. Geen twee beoordelaars sal dieselfde oor ’n stuk voel nie. Ouers moet hul kinders dus aanmoedig om hul beste te doen, en die kind dan help om negatiewe kritiek of kommentaar te interpreteer,” is haar raad.
“Waar die kind aan ’n vaardigheid kan skaaf, kan hulle so doen en volgende jaar weer probeer. Waar ongegronde of subjektiewe kritiek egter plaasvind, kan die ouer die kind help om dit deur ’n lens te sien waar hulle dit eerder analiseer en fokus op die kind se sterk eienskappe,” sê Gerda.
Sommige kinders gaan beter as ander optree, sê Lizz. “Dit is deel van die lewe,” sê sy.
Ouers moet eerlik wees met hul kinders oor hul vermoëns en hulle help om dit te aanvaar as hulle nie ’n kompetisie wen nie. “As ’n kind in kompetisies soos eisteddfods verloor en verstaan hoekom hulle nié gewen het nie, dra dit by tot hul vermoë om verwerping en teleurstelling te hanteer,” sê Lizz.
“Dit is ’n life skill, want jy gaan dalk eendag vir ’n werk aansoek doen en dit nie kry nie,” sê Lizz.
Sy meen die vermoë om daardie soort teleurstelling later in die lewe te hanteer, kan bevorder word deur deel te neem aan eisteddfod-kompetisies.