DEUR PIETER VAN ZYL
Huisgenoot – 2 Februarie 2023
SY WAS nog in doeke – en net ’n paar maande uit die broeikas waarin sy as vroeggebore baba versorg is – toe sy die eerste keer saam met haar bekende ma in die pad geval het. G’n wonder die 13-jarige Luca Human beskryf haarself vandag as ’n “reisiger” nie.
Haar ma, die aktrise, vervaardiger en skrywer Margit Meyer-Rödenbeck, was destyds veral bekend as Dowwe Dolla, en hulle is kort ná Luca se geboorte saam Sun City toe waar Margit Huisgenoot se Skouspel moes aanbied. Sedertdien was konsertsale Luca se tweede huis. Eers toe sy ses was en begin skoolgaan, het die reise bedaar.
Met kuns en vermaak in haar bloed is dit seker nie verbasend dat Luca vandag net so gemaklik soos haar ma kan konsert hou nie. Luca het ontpop in ’n talentvolle aktrise en het nie net die prosa- en poësieafdelings vir haar ouderdomsgroep in Huisgenoot se eerste aanlyn eisteddfod gewen nie; sy is ook as die Eisteddfod-ster van die Jaar aangewys. En nou is sý die ster in die huis wat met haar vermaaktalent kan spog.
“Sy het onder ’n sound desk grootgeword,” vertel Margit toe Huisgenoot by ma en dogter gaan kuier by die teaterrestaurant Die Boer in Durbanville. Dit behoort aan Margit en haar man, Jurg Human, Luca se pa.
Luca is duidelik net so veelsydig en energiek soos haar ma. Met Huisgenoot se besoek bly sy doenig en sit skaars stil: Dan speel sy op die klavier, dan sing sy ’n liedjie, dan werk sy aan ’n fotocollage op haar foon.
Op die verhoog in die restaurant staan die rekwisiete reeds reggepak vir die volgende aand se vertoning van Laerskool-Noord, ’n komedie met Marion Holm. Ilne Fourie, wat die teks geskryf het, is ook al hier vir die repetisie.
Vir die toneelstuk is die verhoog ingeruim soos ’n klaskamer in die tyd van covid, met ’n skerm vir Zoom en al. Die stuk is geskryf in daardie donker tyd toe Die Boer soos baie ander teaters en restaurante ’n ruk lank moes sluit en Margit byna elke dag gehuil het oor mense wat hul werk en inkomste verloor het.
Nou is sy en Jurg hard aan die werk om te kyk of hulle die teaterbedryf weer op dieselfde plek kan kry as voor die pandemie. Margit vervaardig onder meer vir vanjaar se Suidoosterfees ’n verhoogweergawe van die boek Hoerkind deur die skrywer Herman Lategan.
“Mense stroom ongelukkig nie nou al weer terug teaters toe nie,” sê sy.
Maar ondanks dié uitdagings is daar een ding wat enigiemand met hoop vir die toekoms van die teaterwese kan vul: Die geesdrif en prestasies van nuwe jong kunstenaars soos Luca.
OP DIE tafel voor ons lê ’n uitgedrukte Huisgenoot-voorblad van 27 Augustus 2009. Daarop is Margit en baba Luca te sien.
Margit en Jurg was drie jaar getroud toe hulle probeer swanger raak het. Sy was 39 en hy 51. Toe niks aanvanklik gebeur nie, het hulle op in vitro bevrugting besluit. Die eerste behandeling was onsuksesvol, maar ná die tweede probeerslag was Luca daar. Sy is 10 weke te vroeg gebore – en het toe net 2 kg geweeg – en moes vyf weke lank in ’n broeikas aansterk. Maar sy het darem binne ’n paar maande tot 3,2 kg gegroei, en toe kon sy begin om saam met haar ma dwarsoor die land te reis wanneer Margit moes optree.
Deesdae is Luca ’n lieflike tiener, en al net so lank soos haar ma. Net so talentvol ook. “Luca-lief is gebore vir die verhoog,” spog Margit. Dít blyk ook duidelik uit die video’s waarmee Luca verlede jaar ingeskryf het vir die Huisgenoot Eisteddfod. Leerders kon aanlyn inskryf in vier kategorieë – poësie, prosa, redenaars of sang – en Luca het vir al die afdelings ingeskryf behalwe laasgenoemde. Daarby het sy bloot nie uitgekom nie.
Vrolik deel sy nou haar definisie van ’n eisteddfod: “Dis om kreatief met stukke te wees en opbouende kritiek te kry en dan kan jy daaraan werk!”
“Netso,” sê pa Jurg trots. “Sy skryf ook haar eie musiek. Sy het vir my ’n liedjie geskryf toe ek 60 geword het.” Margit haal haar foon uit om die video van die geleentheid in 2018 te wys. My pa is 60 en altyd prettig. Hy hou van ingenieursgoed… sing die meisietjie in die video.
Hier waar sy nou saam met haar ouers deelneem aan ’n onderhoud oor háár prestasies, straal Luca oor die video van destyds. Trots sê sy: “Daardie koorgedeelte is die beste!”
MET Huisgenoot se voorbladonderhoud ’n rukkie ná Luca se geboorte op 12 Augustus 2009, het Jurg destyds gesê hoewel hy en Margit albei in die vermaakbedryf werk, sal hulle nie druk op Luca sit om in hul voetspore te volg nie. “Sy moet haar eie keuses maak, en ons is daar om haar opvoeding en hope liefde te gee.”
Dis presies wat hulle gedoen het. “Ek hét my eie keuses gemaak,” vertel die tiener vol selfvertroue. “Maar ek weet nog nie wat ek eendag met my lewe wil doen nie.”
“Waar is jy die gelukkigste? Is dit nie voor die klavier nie?” vra Margit. “In my bed. Dis waar ek die gelukkigste is,” sê Luca en lag. “Ek dink ek sal (teater en musiek) geniet as dit nié my werk is nie, maar my stokperdjie.”
Maar sy wil nie eendag beroemd wees nie. “Ek hou nie daarvan dat mense aannames oor jou maak nie. Hulle het menings van jou, al ken hulle jou nie,” laat hoor sy met ’n wysheid ver verby haar jare.
Luca se eerste groot kennismaking met die verhoog was toe sy in 2015 die kat Mattewis in haar ma se pantomime Liewe Heksie: Flower Power gespeel het. Sedertdien was sy al te sien in die kortfliek Die maan val bewusteloos en in skoolkonserte. Sy doen ook oorklankingswerk. “Sy is baie op die verhoog en dit lyk vir my dit voel vir haar soos ’n veilige ruimte. Sy sing en speel kitaar en klavier,” sê Margit.
Verlede jaar het Luca ook ’n rits pryse op die Tygerberg Internasionale Eisteddfod ontvang. Sy was toe boonop Tinker Bell in haar skool, die Curro-laerskool in Durbanville, se produksie van die musiekspel Peter Pan.
Vir Huisgenoot se eisteddfod het sy vir die poësieafdeling Lidi de Waal se gedig “Kry-vir-jou-’n-kat-en-klim-in-die-boomdag” voorgedra. “Ons is almal katmal in die huis,” vertel Margit. Hul twee katte is Sokkies en Nutmeg.
Vir die prosa-afdeling het Luca Ilne Fourie se storie “Ma sing ’n solo” voorgedra. In die redenaarsafdeling het sy ’n goue prys verdien, maar sy was nie ’n kategoriewenner nie. Haar toespraak se titel was “Noem my net Koos”, en daarin het sy haar uitgespreek oor moderne mense se neiging om hul kinders aweregse, “kreatiewe” name te gee. Soos om Erica te spel “Air-wrecka”, vertel Luca.
Tog is haar eie naam, Luca, dalk ook nogal ongewoon. Sy is mal daaroor, vertel sy, al is dit in Italië eintlik ’n seunsnaam. “Almal kan my naam uitspreek en spel.”
Luca skryf ook self stories. “Sy het honderde boekies by die huis,” vertel Margit. Op ses het sy haar eerste storie geskryf, “Reis na die Noordpool”, oor drie pikkewyne wat weens die klimaatskrisis in ’n woud woon, maar besluit om op reis te gaan na die Noordpool, van waar hul voorsate kom.
En hoe voel Luca daaroor om deel van ’n kunstenaarsgesin te wees? Is dit vir haar lekker met dié dat die lewe soos ’n nimmereindigende konsert is? “Gedeeltelik,” antwoord Luca dadelik. “Soms gaan dit so mal, jy weet nie of jy kan kophou nie. Maar ek sou nie in ’n ander soort huis wou grootword nie.”