Eisteddfod-ster 2023: Judi Hattingh

Judi met haar sertifikate. Foto: Ziyaad Douglas/Media24/Gallo Images

DEUR MEGHAN LAWRENCE
Huisgenoot – 26 Oktober 2023

SY WIL ’n aktrise word. Nee, miskien wil sy ’n geskiedenisonderwyseres wees omdat sy mál is oor geskiedenis. Of nee, dalk word sy ’n danseres, óf dalk ’n sangeres. Wag, wat van ’n joernalis?

Die 11-jarige Judi Hattingh se oë blink toe sy aan al die moontlikhede vir haar lewe dink. Want daar is mos nog baie tyd om te besluit. En om alles te doen.

Judi is opgewonde toe sy ons na die sitkamer van hul huis in Durbanville, Kaapstad, neem om oor haar deelname aan die onlangse Huisgenoot Eisteddfod te gesels. Dit het die lekkerste sitplekke in die huis, sê sy. Sy is gemaklik daar.

Sy het pas van die skool af gekom. Haar skool, Curro Durbanville, is net so vyf minute van hul huis af, sê sy.

Judi het vir die gr. 4-7-kategorie ingeskryf nadat een van haar vriendinne haar van die kompetisie vertel het. Dit het na ’n lekker geleentheid geklink. Min het sy geweet dat sy die kategorie-wenner van poësie én prosa sou wees. Judi het dié kategorieë gewen vir haar stukke “’n Boelie loop sy rieme styf” en Fiela se kind.

En toe kom die heel grootste nuus: Judi word boonop as Huisgenoot se algehele Eisteddfod-ster aangewys. “Toe Mamma-hulle na my toe kom en vertel ek is die algehele wenner van Huisgenoot Eisteddfod, kon ek op daai oomblik nie skree nie, maar ek wou,” vertel sy opgewonde.

Sy was saam met haar skoolmaats in Johannesburg vir die ATKV se Tjokkertoneel toe haar ma, Lina, en haar pa, Jacus, die nuus met haar deel. Dié toneel-kompetisie beoog om kinders deur mini-toneelstukke aan teater en drama bloot te stel.

“Ons was die laaste week van die vakansie in Johannesburg. En toe was ons die wenners van die Tjokkertoneel en ek was die beste aktrise.”

Voor sy en haar maats gehoor het hulle het die Tjokkertoneel gewen, het hulle op hul sitplekke gaan sit en hande vasgehou. Die prysuitdeling was vir haar baie lank. ’n Hele drie uur. ’n Ewigheid.

Sy wil eendag ’n aktrise wees, vertel Judi. Sy wil graag “famous” wees. Maar sy is eintlik reeds ’n aktrise, verklaar haar ma. En sy ís, want kyk nou net – hier is sy nou Huisgenoot se heel grootste Eisteddfod-ster.

Judi saam met haar pa, Jacus, ma, Lina en boetie, Gerlo. Foto: Ziyaad Douglas/Media24/Gallo Images

JUDI is so opgewonde oor al die pryse dat sy skoon vergeet het dat sy al self in ’n fliek gespeel het. “Ooooo, ja,” sê sy skaam toe haar ma haar daaraan herinner.

Judi was die hoofkarakter in die fliek Desemberdiewe wat verlede Desember op kykNET was. Sy het haar aktrise-skoene vol gestaan in tonele saam met gesoute akteurs soos Roeline Daneel en June van Merch.

Ons vra haar wat haar gunstelingflieks is. Sy begin hulle opnoem: Top Gun: Maverick en Harry Potter and the Goblet of Fire, vertel sy.

En Desemberdiewe, pols haar ma. Ja, ja, maar sy wil eintlik gou vertel hoe mal sy oor Top Gun: Maverick is omdat dié opvolgfliek van Tom Cruise vir haar “baie” beter was as die oorspronklike Top Gun.

Sy lag skaam toe ons uitvra oor haar gunstelingakteur. ’n Bekommerde trek flits oor haar gesig, maar dan skuif sy vorentoe op die rusbank. Amper asof sy ons wil uitdaag om te lag wanneer sy sulke belangrike inligting deel.

“Dit klink dalk weird, maar Tom Cruise. Hy’s mooi. Maar hy lyk nogal baie ouer in Top Gun: Maverick. Ek hou meer van hom toe hy jonk was.”

Sy begin opgewonde vertel hoe sy nou die Harry Potter-flieks kyk en heeltemal verlore raak in die towerwêreld. “Maar Pappa hou nie van die flieks nie,” beskuldig sy haar pa, wat dan mompel dat hy “old school” is.

Judi sê sy het nog nie die Harry Potter-boeke gelees nie, maar sy sal daarby uitkom. Sy wil eers net sien hoe die flieks eindig, want sy het reeds sewe van die agt Harry Potter-flieks gekyk. “Ek hou die meeste van die Goblet of Fire-fliek omdat dit die eerste fliek is waar Voldemort inkom. Maar dis so hartseer vir my dat Cedric Diggory doodgaan.”

Sy verdwyn amper tussen die kussings op die rusbank toe sy vertel hoe bang sy eers vir Voldemort was toe haar nefie vir haar foto’s van hom gewys het vóór sy die flieks mag gekyk het. “Ek het baie bang geraak. Ek was verskriklik bang vir hom. En toe het ek een aand opgegooi. Ek kon nie slaap nie. Ek het nagmerries gekry.

“Maar nou is ek gewoond aan hom, want ek het die Harry Potter Top Trump-kaartjies,” vertel sy dapper uit die kussings. Want in dié tonele versyn Ralph Fiennes – wat die rol van Voldemort vertolk – skielik in ’n begraafplaas teenoor Daniel Radcliffe se Harry Potter. “Daai was nogal creepy. En scary. Ek het my oë toegemaak vir daai deel. Maar ek het alles gehoor.”

Sy weet nog nie hoe die fliekreeks eindig nie. En sy wil graag weet wat gebeur. Maar gaan sy kan tyd maak om dit klaar te kyk?

Judi en haar hond, Spoortjies. Foto: Ziyaad Douglas/Media24/Gallo Images

DIE tyd stap aan, en hoewel sy nog lekker gesels oor hoe sy ook graag The Lion King, Hercules en Encanto kyk, besef Judi haar balletklas begin binnekort. En haar boetie, Gerlo (8), saam met wie sy gereeld bordspeletjies speel, moet ook nog by die skool opgelaai word.

Jacus sê Gerlo het ook aan Huisgenoot Eisteddfod deelgeneem. Hy het vir die kategorie gr. 1-3 ingeskryf met ’n gedig, “Drie borde sop” van I.D. du Plessis, waarvoor hy goud gewen het. Judi móét balletklas toe gaan, want haar balleteksamen vind teen die einde van November plaas. Maar sy gee nie om nie. Sy is mal daaroor en neem ballet al vandat sy vier of vyf jaar oud was.

Sy vertel dat sy eintlik baie van musiek ook hou. “Hulle bied klavierlesse by die skool aan. Mamma is ’n klavierjuffrou by ons skool. Ek wou baie graag klavier doen, maar ek doen dit nie by Mamma nie, want dit sou darem net té weird wees.”

“Ja, dit sou veral vir Mamma weird wees,” sê haar ma en lag.

Sy oefen darem saam met haar ma by die huis, vertel Judi trots. En wanneer sy moeilike note moet lees, is haar ma daar om haar te leer en haar te help. “Ek geniet die klavier baie,” sê sy ingenome.

Judi gaan ook een van die dae hard aan haar woorde vir ’n musiekspel moet oefen. Sy gaan binnekort in The Sound of Music in die Kunstekaap in Kaapstad te sien wees waar sy die rol van Brigitta von Trapp gaan vertolk. “Ek gaan van 14 Desember tot 14 Januarie in The Sound of Music wees. Ons begin op 6 November oefen. Ek sien baie daarna uit,” vertel sy opgewonde.

Terwyl Judi gesels, kom haar hondjie na die skuifdeur en loer in. “My hond se naam is Spoortjies. Ek weet regtig nie hoekom ek hierdie naam gekies het nie,” sê Judi en vertel toe sy klein was, het sy aan verskillende name gedink. “Dit was so amper-amper of Spoortjies se naam was eintlik Grassie. Maar toe besluit ek op Spoortjies, want ek het gedink sy gaan spore in die huis los.”

Spoortjies het toe nié spore in die huis gelos nie, maar sy los wel spore in Judi se hart, vertel haar pa, en Judi rol haar oë vir die Dad Joke.

Teen die einde van die onderhoud is Judi se gesigsuitdrukking vasberade. Sy het intussen besluit wat sy graag wil wees wanneer sy ouer is: Beslis ’n aktrise, sê sy.

En met ’n fliek reeds agter die rug is een ding seker: Judi gaan nog diep spore in die toneelwêreld los.